Plaaswerf se dinge.

Share your jokes and funny campfire stories with us here.
Forum rules
Please keep it light hearted enol. No serious stufs hey! :)

BEFORE YOU START A NEW JOKES THREAD PLEASE TAKE NOTE:
We are trying to make the technical information more visible in the Active Topics section. So we are trying to combine all the humour posts into a single thread. This will then more or less always stay on the active topics page if you keep appending your jokes onto this single thread. Your assistance will be greatly appreciated
Post Reply
User avatar
ThysdJ
Moderator
Moderator
Posts: 16587
Joined: Wed Oct 24, 2007 7:31 am
Town: Brackenfell
Vehicle: 2010 Hilux D4D 3.0 D/C 4x4
Real Name: Thys
Club VHF Licence: HC102
Location: Brackenfell
Contact:

Plaaswerf se dinge.

Post by ThysdJ »

Ek sit laat agtermiddag op die stoep - yskoue Castle in die hand, die mal rifrug van my jaag tarentale wat hoenderkos wil steel, vroulief is besig om ʼn rooibokboud (het heel toevallig voor die bakkie ingeloop; julle weet mos) in die oond te druk, toe ek amper die bottel insluk na ʼn moerske slag en gil van agter die waenhuis.
Die rifrug skrik homself in ʼn ander bloedgroep in, vroulief gee ʼn gil wat die dode kan wek, my trotse haan val hom des moers van sy stok en ek mors van die kosbare koudheid.
Kom my jongste knaap om die waenhuishoek gehol met ʼn stofstreep agter hom aan, spoegslierte om die mondhoeke, skreeuend van ver af: "Pa moet gou kom, hier het ʼn lelike ding gebeur!!"
Ek storm soos ʼn wafferse voorspeler die trappe af, slaat oor ons werfkat neer, spring op - so in die verbygaan skop ek die arme kat amper in ʼn gehoortoestelletjie in - en gryp my seun aan die skouers. Die hond raak verbouereerd, gryp my aan die broek. Vroulief, pan in die hand - minus die boud - storm my uit die pad, slaat die hond vir ʼn ses met die pan, gryp my seun by my en hyg: "Is jy oraait? Het jy seergekry?"
"Nee, Ma!" met so ʼn vriesbrand stemmetjie, "Dis Jakobus, Ma, hy het die longdrop opgeblaas."
Nou moet ek eers verduidelik: agter die waenhuis het ons ʼn longdrop gebou vir die werkers, vat te veel tyd as hulle eers kaias toe moet loop vir die dinge van die natuur; dinge kan partykeer jaerig raak so met die werk en eet saam. Veral vir Jakobus, my butler, soos ek hom noem.
"Is Jakobus oraait? Leef hy?" hyg skreeu vroulief met ʼn aamborstige Gunston-stem. Nie dat vroulief enigsins rook nie.
"Ja, Ma, hy't ʼn vuurhoutjie in die skag afgegooi terwyl hy op die troon gesit het, Ma! Sy kroonjuwele en exhaust is geskroei, Ma!"
"Swerwer, gaan kyk of die man nie dood is nie," word ek beveel.
Nou met vroulief praat jy nie teë nie, veral as haar stemmetjie so ʼn oktaaf styg.
So staat ek en kyk na Jakobus se agterent en juwele, hy gebukkend, toe Dominee skielik om die hoek kom. Was so beïndruk met die werkinge van metaangas dat ek nie die motor hoor stop het nie.
"En nou, broer?" wil Dominee met ʼn skok in sy stem weet.
Ek skrik my amper bo-op Jakob se rug en probeer terselfdertyd sy broek optrek. Hy brul en gil van die pyn en probeer uit die broek ontsnap.
"Nee, Dominee, man, gee bietjie hand, Jakob wil nie stilstaan nie," hyg ek uitasem.
Dominee ruk hom om, marsjeer stywebeen en baaaaie vinnig terug na sy motor. Ek staan vasgevang tussen Jakobus se pyn en Dominee se gedagtes.
"Te dinges met jou, Dominee," dink ek by myself en trek weer Jakobus se broek af. Met dié draai Dominee om en sy mond gaan oop om iets te sê, maar geen woord kom uit by die aanskoue van die af broek. Hy staat en gaap-gaap soos ʼn vis op droë grond voor hy homself in sy motor boender en met skreeuende bande wegtrek.
Intussen het Jakob homself uit sy broek bevry en daar gaat die man op loop reguit na sy kaia toe. Sy vrou het hom op ʼn afstand sien aankom, vasgesteek, en weer gekyk, ʼn smile op haar gesig gekry en begin om haar bloes los te knoop. (Ek het eers later by Jakob verneem hulle was teen daardie tyd al twee weke nie op "speaking terms" gewees nie.)
Toe Jakob die deur langs haar ingedraf kom, gee sy hom ʼn speelse klap op die boud, op die eina. Die man pak ʼn paar Dunlop-briekmerke teen die grond vas, swaai om en maak vir die sementdam.
In die hardloop besluit Boel, my rifrug, hierdie is ʼn lekker speletjie en hap speels aan Jakob se alie. Jakob trek sy twee boude inmekaar soos ʼn uitgedroogde lemoen en duik vir die dam, saligheid klaar op sy gesig, maar ongelukkig skuur sy twaksak teen die damwal. Borrels met onaardse geluide binne vasgevang bars bo die oppervlak uit.
Al wat Jakob uitkry met sy kop bo die water: "Jo-jo, nooit ek hy poep weer!!"
Kyk, die ding tussen my, Jakob en dominee het geloop pla. ʼn Anderse soort branderigheid hierbinne waar jy nie vatplek kan kry nie, toe gaat maak ek die saak met dominee reg. Hom mooi verduidelik van die omstandighede en gebeure.
Daarna was dominee saf, maar ook nie te saf nie, wou nooit weer alleen saam met my iewers heen ry nie, en by die kerkbasaar het hy mevrou Dominee altyd styf onder sy arm vasgeknyp as ek sou nader staan. Ek dink ook nie dit het gehelp toe ek na maande weer my gesig in die kerk wys, en my seun wat van Amerika besoek, sy oë op die Nagmaaltafel gerig, kliphard laat hoor het: "Jis, pa, ek hou van dié kerk, hulle het shooters!"
Maar die storie het sy fyndraai loop kry verlede week toe ʼn mannetjie van Cope hier by my aankom op die plaas en wou hoor of ek nie maar by hulle party wou aansluit nie. Ek was reeds weer vir ʼn week onder kerklike sensuur.
"Oom, Cope is die toekoms van ons land en oom kan net voordeel trek deur by ons aan te sluit," het hy handeswaaiend beduie. Kompleet asof hy die vlieë in die melkstal bymekaar wou maak vir ʼn belangrike geleentheid.
Ek het gehurk op my melkstoeltjie gesit, besig om Blommetjie te melk.
"Jy sê daar is voordele aan verbonde?" wou ek weet.
"Ja, oom, die party kan baie dinge vir oom doen, oom moet net vra," het hy weer met die hande beduie.
"Nou ja, boetie, daar ís iets wat jy vir my kan doen."
"Sê net, oom, en dis gedoen," het die mannetjie soos ʼn ou versekeringsagent laat hoor.
"Jy sien die ding staan so: drie weke gelede, een Saterdagmiddag, wou ek vir Blommetjie melk. Van lank se tyd het Blommetjie die gewoonte om haar stertkwas deur jou gesig te piets terwyl jy haar spene trek. Daaraan was ek nou al gewoond, maar dié Saterdag het Blommetjie per ongeluk op haar stert gemis. Weet nie of die lusern nie geakkordeer het nie. Elk geval, elke keer as ek aan haar spene geraak het, het sy my deur die gesig gepiets met die kwas vol mis. Dan moes ek eers vroulief se jammerlappie loop haal om my gesig af te vee.
"Besluit toe om haar stert met die spantou vas te maak. Dié werk ook nie; Blommetjie trippel rond en ek kry nie my korrel in die melkemmer nie. Oplaas moes ek ʼn anner plan maak. Keer toe die melkemmer om, klim bo-op, haal my belt af, tel Blommetjie se stert hoog innie lug, en maak dit aan een van die stal se balke vas.
"Man, en net daar, met my hande om die balk geknel, besluit my broek om af te val - het mos nie meer ʼn belt om hom bo te hou nie. Onnerbroek dra ek ook nie; die ding het mos ʼn gewoonte om soos iemand met ʼn viertrekvoertuig in elke sloot in te kruip. Da' staat ek toe in al my glorie, en met dié het dominee by die deur ingekom ..."
"Nou wat moet ek doen om te help?" het die mannetjie gulsig gevra. "Moet ek vir oom die koei se stert vashou sodat oom haar kan melk?"
"Nee, boetie, ek wil hê jy moet na dominee toe ry, en as jy hóm kan oortuig dat ek geen bybedoelings met Blommetjie gehad het nie, sluit ek by jou party aan."
Thys de Jager
CEO and Refreshments Manager at Team Offroad.

2010 Hilux 3.0 D4D D/C 4x4 with GOMAD "Brood" Canopy. Tripod.
1997 Jeep Wrangler TJ 4.0 Sport. The original SFA. AGA... Gooi kole
email: thys@teamoffroad.co.za

Like Team Offroad on Facebook...
User avatar
JohanM
Monster Truck
Monster Truck
Posts: 4047
Joined: Tue Aug 14, 2007 8:33 pm
Town: Meyerton
Vehicle: Prado 120 4.0 V6
Real Name: Johan
Club VHF Licence: HC126
Location: Gauteng
Contact:

Re: Plaaswerf se dinge.

Post by JohanM »

:clap: :clap: :clap: :clap: :lol: :lol: :lol: :lol:
Johan Marais
User avatar
Mud Dog
Moderator
Moderator
Posts: 29857
Joined: Tue Apr 29, 2008 2:18 am
Town: East London
Vehicle: '90 SFA Hilux DC 4X4, Full OME, 110mm lift. Brospeed branch, 50mm ss freeflow exhaust. 30 x 9.5 Discoverer S/T's on Viper mags. L/R tank. (AWOL) '98 LTD 2.4 SFA, dual battery system. Dobinson suspension, LR tanks, 31" BF mud's.
Real Name: Andy
Club VHF Licence: HC103

Re: Plaaswerf se dinge.

Post by Mud Dog »

:lol: :lol: :lol: :lol: :lol: :lol: :lol: :thumbup: :thumbup: :thumbup:

Die trane rol vrylik!! :lol: :lol: :lol:
When your road comes to an end ...... you need a HILUX!.

Image
Image

Life is like a jar of Jalapeño peppers ... what you do today, might burn your ass tomorrow.
Don't take life too seriously ..... no-one gets out alive.
It's not about waiting for storms to pass. It's about learning to dance in the rain.
And be yourself ..... everyone else is taken!
User avatar
0000DS
LR4WD, Lockers, Crawler Gears
LR4WD, Lockers, Crawler Gears
Posts: 1527
Joined: Sat Aug 22, 2009 6:35 pm
Town: Roodekrans
Vehicle: Tuna, 4X4, Longrange Fuel tank, BF's AT, Intergrated bumber, Roofrack, Awning, Air suspension,winch
Real Name: Danelle

Re: Plaaswerf se dinge.

Post by 0000DS »

Ai, Afrikaans bly maar 'n wonderlike taal. Het nou lekker gelag :lol: :clap: :lol: :clap: :lol: :clap:
Image
Raider4x4
High Range 4WD
High Range 4WD
Posts: 35
Joined: Mon Mar 01, 2010 3:37 pm
Town: Glentana
Vehicle: Raider 4x4
Real Name: Okkie van der Westhuysen

Re: Plaaswerf se dinge.

Post by Raider4x4 »

Ja nee, baie dankie vir daai een, eks op die grond, wonder of die rifrug herstel het na daai hou?
chopper

Re: Plaaswerf se dinge.

Post by chopper »

Ai, die week se swarigheid is nek-omdraai-gelag! :lol: :clap: Dankie Thys!
User avatar
Paul Grobler
LR 4WD Full Lockers
LR 4WD Full Lockers
Posts: 564
Joined: Mon Nov 02, 2009 6:09 pm
Town: KOEDOESKOP
Vehicle: '12 79 Land Cruiser Pick up 4.2 D
Real Name: Paul

Re: Plaaswerf se dinge.

Post by Paul Grobler »

Ja Thys

Dis een om te onthou vir daai laat aande om die kamp vuur UITSTEKEND
PROBEER NOG MY VROU TE KALMEER VAN N LAG AANVAL :clap: :thumbup: :lol:
5de Rat brights
User avatar
ChrisF
Top Web Wheeler
Top Web Wheeler
Posts: 8188
Joined: Thu Sep 17, 2009 2:56 pm
Town: inniedorp
Vehicle: Toy
Real Name: Chris

Re: Plaaswerf se dinge.

Post by ChrisF »

En my vrou staan en kyk net vir my uit die kombuis uit ... verstaan nie dat ek nou so lekker sit en lag nie.

Sal maar later die storie vir haar vertel ...... :)
Post Reply

Return to “Humor”