Page 1 of 1

Soet-suur Oos-Kaap vakansie.

Posted: Fri Aug 02, 2013 10:30 am
by Potifar
Hallo Hilux vrinne, ek gaan ons verhaaltjie maar in my moedertaal skryf, en ek is ‘n Aardrykskunde en geskiedenis onnie, nie in die taaldepartement nie! Ek gaan haal die storie ver by die begin, maar met ‘n mooi einde, uit die ou Transkei uit.

Op 7 Junie vanjaar het ons ontvangs geneem van ons 2007 Hilux 4l V6. Wat ‘n lekker gevoel was dit nie! Die bakkie was mooi blink gevryf en alles wat moet blink het geskitter! En hy brul soos ‘n bul! (Nie een van daai (Blou) bulle wat net kantlyn toe kan mik nie!) En so kry ons V6 sy naam, Os, vernoem na die ou Vrystaatse staatmaker, Os du Randt.

En met groot opgewondenheid trek ons 22 Junie weg, R62 Joubertina toe. Die eerste werklike grondpad wat ons met Os vat is toe na die gasteplaas, Kouga Wildernis. Grondpad hemel! Nou pad met afgronde en ook ‘n gradering 3 4x4 roete op die plaas, en natuurlik plattelandse gasvryheid by Oom Nico en Tannie Millie Ferreira. (kougawildernis.co.za)
Daarna laat loop ons Cradock verby, deur Hofmeyer, na my ouers se plaas in die Stormberge, duskant Molteno. Daar beleef ons temperature van -5 tot -8 elke oggend, maar met lekker moerkoffie en baie skaaptjops! Na ‘n week op die plaas, het ons Os se neus na Barkley-Oos toe gedruk. ‘n Skoolvriend van my, Johann Jordaan, boer saam met sy skoonpa so 10km van Rhodes af op die plaas Steepside. Hulle bedryf ook ‘n paar pragtige gastehuisies en het ‘n kampeerterein. (http://www.steepside.co.za" onclick="window.open(this.href);return false;) Die paaie was almal in baie goeie toestand, maar dis maar baie haarnaald- en skerp draaie en sinkplaat stukkies. Met die stop op die plaas ruik ek iets stink, amper soos olie of iets wat warm word. So tussen die groet en aflaai loer ek maar sien niks. Johann sê hy dink dis net die remme wat dalk bietjie warm geword het. Dit daargelaat en inwaarts na die kaggel, want daai wêreld word leeukoud!

Hiervandaan is ons toe die Ou Transkei in via Eliot, deur Mthatha, af Port st Johns se kant toe, na ‘n juweel genaamd Sinangwana, by Oom Kiewiet Fourie se vakansie huisies. Dis ‘n ongerepte wildekus paradys. En ek sien uit na visvang en braai!
Maar toe ons stilhou ruik ek olie... Ratkas olie. En dit drup onder Os uit.

Nou kom ons by die soet en suur van ons vakansie. Ek lê onder Os, soek die oorsprong en bel toe die verkoopsman op Caledon, en hy verseker my dit is net ‘n seëltjie wat lek, ons kan maar so ry tot op Mthatha. Hy verseker my ons moet nie bekommerd wees nie, die bakkie is onder waarborg en hulle sal vir die regmaak betaal. Maar ek sit toe mos met stukkende bakkie stres en ‘n gestresde, moerige vroutjie. Weg is visvang vir eers, selfs die eerste biertjie op die stoep is net bietjie te bitter. En dis amper twee ure se ry tot op Mthatha...

Gelukkig het ek die vorige jaar gesien waar die Toyota se nuwe werkswinkel is. Nou die wat nog nie in Mthatha was nie, die verkeer lyk soos iets uit ‘n Harry Potter movie, hoe daai karre, taxi’s, bakkies, voetgangers, bokke, skape, beeste, varke en eende nie in ongelukke betrokke raak nie is magic. Daar is net een verkeersreël, geen reëls!

Ons daag sonder afspraak by Mthatha se Buffalo Toyota op, en ek het gedink dit gaan maar seker ‘n moeilike proses die wees. Met die instap sien ons die plek is besig! Nee regtig, dit roer daar binne. Ons moes seker maar erg benoud gelyk het, want hul sales executive, Craig Herman kom sommer reguit na ons toe gestap, groet met die hand en vra of ons al gehelp is. So verduidelik ons aan hom ons probleem en hy kry onmiddelik die V6 op die hyser. En na tien minute roep die man my agtertoe met die tipe gesig wat ‘n dokter in ‘n episode van Greys Anatomy het as hulle vir die familie slegte nuus wil gee...

Hy wys my dat die bakkie ‘n harde stamp, of in sy engels: “one moerse hit” moes gekry het, en of ek bewus daarvan is. Ons het grondpaaie gery, maar waaragtig nerens in iets vasgery of gestamp nie! En hy laat my fotos neem, just in case! Hy wys toe dat die bash plate ‘n groot duik in het, uitgeskeer was agv die stamp, en met ‘n wasser weer aangesit is. Die seël wat lek is op die 4x4 diff, en is veronderstel om rond te wees, maar die een kant is skerp ingebuig. Hy vra toe hoe lank ons die bakkie het en ek bieg nog net drie weke, wys hy my daarop dat die remskywe groot krake in het. Nee, moerse krake! Die remkussings was nuut, maar die skywe is nooit na gekyk nie. En dit is deel van die Toyota Automark 80 punt check! Eina...

Graig en die besturende hoof van Buffalo Toyota moes die diff seël uit oos Londen bestel, en het nie veilig gevoel dat ons met Os terug ry na ons vakansie bestemming nie. Hul bestuurder leen toe sy nuwe bloedrooi 3l D4D dubbel kajuit vir ons! Buffalo Toyota Mthatha het uit hul pad gegaan om ons te help. Graig het ook geen doekies omgedraai oor die situasie nie en hulle het self die bakkie van voor tot op agter deurgekyk vir ander verskuilde foute. Volgende dag het ons Os gaan haal, mooi reggemaak. Van nuwe remskywe tot nuwe diff seël, olie opgetop, reg vir die pad!

Die hartseer vir my van die hele ondervinding was dat ek gedink het om plaaslik te koop is die beste, en dat ons net die beste diens in die Wes Kaap kan verwag, en nie sommer dit in die Transkei sal kan kry nie... Wat ‘n ontnugtering!

Daai span werktuigkundiges in Mthatha is uitstekend! Toyota Caledon het vir al die herstel betaal sonder enige probleme, waarvoor ek baie dankbaar is. Daar is ook blykbaar hard gepraat met die betrokke persone wat verantwoordelik was vir ons ongerief en teenspoed. Maar ons het twee dae van vakansie verloor wat ons Mthatha toe en terug ry. Twee dae van spanning, geen visvang en sommer net ongelukkigheid met die persone wat nie hul werk in die eerste plek gedoen het nie, of dalk die probleem op die bakkie probeer wegsteek het.

Maar ek wil net weer uit die diepte van my hart baie dankie sê vir Graig en die span van Buffalo Toyota! As ek weer in die toekoms ‘n bakkie wil koop bel ek hom eerste! Net jammer hulle is 1400km van my huis, anders was ek volgende week daar vir Os se 180 000km diens!
En as een van julle ooit deur Mthatha ry, loer gerus daar in, daai manne diens tussen 40 tot 60 Toyota’s per dag! 10 uit 10 vir BuffaloToyota, Craig Herman en hul hele span!

Vriendelike groete
Gerhard Venter

Re: Soet-suur Oos-Kaap vakansie.

Posted: Fri Aug 02, 2013 10:52 am
by CasKru
Jis Gerhard... dankie vir die deel van daai storie... maar ek voel sleg om te lag vir jou teenspoed die manier wat jy dit vertel

Re: Soet-suur Oos-Kaap vakansie.

Posted: Fri Aug 02, 2013 11:16 am
by Potifar
ek kan nou darem al bietjie smile oor die storie, maar jy sal my nie glo nie, die dag na Os reggemaak is breek my Pen 49 katrol. Toe is vroulief erg taai! Ek het 'n assembly spreadsheet vir pen49 op google gekry, katrol uitmekaar gehaal en dis 'n tafel vol parte. Binne drie ure is die blerrie ding net verder opgeneuk!
Volgende dag vertel ek my geely Ernest (visvang hulp van die nabygelee village) van die nuwe problem. Hy stuur daai aand een van die wagte na my, Goodman is die naam. Hy sit in stoeplig met een skroewedraaier en maak daai katrol reg! Daai man is 'n genius! Volgende aand was dit elwe en kreef op die kole en 'n baie vriendeliker vroutjie! Het die hele week daarna elke dag nog visgevang danksy die donker engel!

Re: Soet-suur Oos-Kaap vakansie.

Posted: Fri Aug 02, 2013 11:35 am
by Oupa Stig
Ai, die Oos Kaap lê na aan my hart. Net jammer dat die mense so swaarkry daar agv swak politiek. Oja, en die Watsons... Het jou storie geniet! Bly jy kon jou sorge daar uitsort.

Re: Soet-suur Oos-Kaap vakansie.

Posted: Fri Aug 02, 2013 7:14 pm
by Mud Dog
Dis Hilux wêreld, die'! :thumbup: :D:

Net jammer om te hoor van jou teenspoed. :(

Re: Soet-suur Oos-Kaap vakansie.

Posted: Fri Aug 02, 2013 10:03 pm
by Thabogrobler
Impressive!!!

Re: Soet-suur Oos-Kaap vakansie.

Posted: Sat Aug 03, 2013 3:24 pm
by Haboob
Ons hoop dat jy van nou af net gooie herrineringe met jou lux beleef...
Hoe was die D4D in vergelyking met die V6 ?

Re: Soet-suur Oos-Kaap vakansie.

Posted: Mon Aug 05, 2013 9:29 am
by Potifar
Ek verruil my V6 vir niks... Maar kom ons praat weer na Woensdag se petrolprysverhoging! :blackeye: Die V6 is beslis baie stiller in die kajuit, die auto ratkas maak verbygaan op die ooppad 'n fees, die cruise control skakel net te vining terug teen klein bultjies. Die bak was volgelaai, en op die agtersitplekke was ook nog bagasie, maar hy voel dit nie, meer as genoeg perde in die stal!