Rightersveld Namakwa 2008

Tell us about your recent trip. Please add some photographs.
Post Reply
User avatar
Okkie Van Wyk
LR 4WD Rear Locker
LR 4WD Rear Locker
Posts: 420
Joined: Sat Sep 22, 2007 10:46 pm
Town: Middelburg
Vehicle: 2011 Hilux 3.0 D4D D/C
Real Name: Okkie
Club VHF Licence: N019
Location: Middelburg MP
Contact:

Rightersveld Namakwa 2008

Post by Okkie Van Wyk »

TRIP REPORT – Richtersveld & Namaqua Eco-Roete

Op Saterdag 20 September 2008 trek ons weg uit Middelburg. Die pad is lank, die pas is stadig, Diesel Cruiser’s sukkel bietjie met spoed. Ons slaap vanaand by Rooisand, net anderkant Kuruman. Die wind waai ons uitmekaar.

Sondag 21 September 2008 vat ons die pad Witsand toe, die mooiste mooiste plek. Die berge lê rondom die witduine. Dis steeds koud, maar ons harte is warm, want wat is dan lekkerder om in die mooi natuur te wees wat ons Hemelse Vader gemaak het. Oppad Witsand toe ontmoet ons ‘n familie op ‘n donkiekar, ons Highjack hul, sodat ons ‘n paar foto’s op die donkiekar kan neem. Daisy en Vegter staan geduldig en pose. Ons gee vir hulle sakkies met allerhande goete in, asook Bybeltjies, wat die Bybelgenootskap vir ons geskenk het.

Maandag 22 September 2008 – Ons kyk na die sonsopkoms oor Witsand, die strale bloei uit oor die aarde ‘n geel gloed word oranje, en steek die hele wêreld aan die brand. Ons ry duine borde, dis vrek lekker, hier kan ons vir altyd bly. Ons het weer soos kinders die genot en vreugde van klein dingetjies ervaar. Dit was by verre die hoogtepunt van die dag.

Dinsdag 23 September 2008 – Op pad na Verneukpan moet ons ‘n detour vat Postmasburg toe, een van ons reisgeselskap het ‘n ernstige maag aandoening opgedoen, en ons soek ‘n dokter. Ons kom laat by Verneukpan aan, maar ons is net betyds om die son te sien ondergaan oor die pan, dis amazing. Dis ‘n baie koue aand… Met sonsopkoms verander die son binne ‘n paar sekondes van ‘n klein geel kolletjie op die horison tot ‘n gloeiende oranje bal in die lug. Die son en plat vlaktes maak spieëlings op die horison. Ons wonder of die mense wat hier bly besiel hoe mooi die “niks” is.
Woensdag 24 September 2008 – Papkuilsfontein net buite Nieuwoudtsville is ons volgende bestemming, na ons deur 19 hekke is, wat Okkie moes oop en toe maak. Die blomme is plate geel, pers en oranje, as jy stop en uitklim sien jy ook die pienk, blou en wit blommetjies. Die geur van die blomme waai in deur die Hilux se vensters. Ons ry deur Calvinia ‘n skilderagtige dorpie. Op Papkuilsfontein plant hulle rooibos tee en olywe. Dis die mooiste mooiste plaas, hulle het tot hulle eie Canyon. Annetjie voel nog nie lekker nie, toe kry Rinda die gogga.

Donderdag 25 September 2008 – Ek (Celéste) en Okkie stap al met die 4x4 roete langs om blomme te kyk. Die mooi maak my skoon bewoë, die Here het hande vol saad gevat en oor hierdie mooie aarde gestrooi, die Bybel sê die natuur roep uit die volheid van God. Ons besef weer wat is die mens dat U aan hom dink. Die natuur is wonderskoon. Op pad na Springbok, ons slaap vanaand op die plaas van Pastoor en Tannie Lindholm. Hulle berei vir ons die heerlikste boerekos. Ons slaan ons tente daar in die erf op en slaap te lekker.

Vrydag 26 September 2008 – Die Richtersveld roep. Ons ry deur Port Nolloth, moenie tussen 12 en 2 iewers probeer ingaan nie, almal vat ‘n siesta. Port Nolloth het ‘n deel van my hart. In Alexander baai gooi ons brandstof. Ons betree die Richtersveld, min plante, klippe net waar jy kyk. Hier kan ek ‘n hut bou en vir altyd bly. Vanaand slaap ons by Potjiespram. Oppad ontmoet ons die Hilux ouens.

Saterdag 27 September 2008 – Heerlike ontbyt by Potjiespram, terwyl die bobbejane verjaag word met die kettie. Ek en Okkie gaan stap langs die rivier, daar is nou maar net vir my ‘n betowering in klippe, ek kan nie genoeg daarvan kry nie. Annetjie is nou gesond, Rinda voel steeds nie lekker nie, en toe tref die siekte vir Karla. Vanaand slaap ons by De Hoop. Die kamp is baie mooi, dit lê reg langs die Oranje rivier. Die son wat in die weste sak maak goue patrone teen die rand van die berg.

Sondag 28 September 2008 – Willem en Rinda besluit om huis toe te gaan, Karla is steeds siek en hulle is bang dat Ewan aansteek en waar kry mens ‘n dokter vir ‘n baba van 1jaar oud? Ons is sommer hartseer dat hulle moet gaan. Ons sit en koffie en beskuit eet, toe begin die voëltjies aankom, geel vinke, mossies en Kaapse glasogies. Hulle is so mak, hulle gaan sit op die kinders se hande en eet beskuit. Dit was vir hulle ‘n belewenis. Ons slaap vanaand by Kokerboom kloof. Die klipformasies is soliede klippe (boulders) wat die landskap versier. Waar kan ‘n mens dan mooier kry? Die klippe lyk soos diere.

Maandag 29 September 2008 – Ons besluit om ‘n dag vroeër uit die Richtersveld te gaan, ons wil vanaand by Bakkrans slaap. As ek so na die klowe en skeure kyk kan ek nie help om te dink aan daardie liedjie “By U skuil my siel in die skeur van die rots, wat staan in ‘n ver dorstig land…” Dis so mooi, ek weet ek weet, ek sê dit van elke plek, maar dis so mooi. Ons stop by Kubus, ‘n dorpie net buite die Richtersveld nasionale park, daar gee ons weer sakkie en Bybels uit, die kinders is so opgewonde.

Dinsdag 30 September 2008 – Waar lê my rykdom? In my hart en in die mooi wat ek rondom my sien. Ons ry deur Lekkersing en Eksteensfontein, die mense hier is almal Afrikaans. Ek wonder steeds of die mense besef hoe bevoorreg hulle is om hier te bly. NS. Weet julle wat is ‘n Beidelrot? Vanaand slaap ons by Wildthing, dis ‘n oase in die middel van ‘n droë, dorre land. Hier kan ons weer bietjie mens word, warm stort en lekker eet.

Woensdag 1 Oktober 2008 – Ons kyk na die Sonsopkoms oor die Oranje rivier, aan die oorkant lê Namibië. “How big is God, how big and wide His vast domain, to begin to tell, these lips can only try. He’s big enough to rule the mighty universe, yet small enough to dwell within our hearts.”

Ons pak klippe, die koordinate van die “Oppad” klippe is:
S28grade 53.643’
E17grade 49.337’, gaan kyk gerus as julle in daardie omgewing is. Vanaand slaap ons by Kamgab. Ek (Celéste) ry(bestuur) af tot by Kamgab, die 4x4 gogga wil my maar net nie los nie. Het ek al gesê ek is mal oor dié Hilux? Die blomme in die rivierloop is so mooi, dit lyk of iemand tuin gemaak het. Hier is definitief die mooiste sterre. Die melkweg lê spierwit in die lug.

Donderdag 2 Oktober 2008 – Ek sal vandag maar vir Okkie ‘n kansie gee om te bestuur tot by Groot Melkboom, waar ons vanaand sal slaap. Daar is twee ander voertuie ook by Groot Melkboom. Die wind waai ons byna weg, maar ons geesdrif word nie gedemp nie.

Vrydag 3 Oktober 2008 – Ons is oppad na Klein Pella, ons doen aan by Henkries, en koop dadels daar. Ons ry tussen die Dadel palms oppad na Klein Pella. By Klein Pella se dadel verpakking stoor verduidelik Ronald ons hoe werk die bestuiwing van die palms. Als word met die hand gedoen. Klein Pella is ‘n pragtige gasteplaas. Daar het Anrich (8jr) ‘n paar groot ouens op hulle neuse laat kyk met kettie skiet. Ons is almal lekker moeg, ons gaan slaap vroeg, die warm stort was devine.

Saterdag 4 Oktober 2008 – By Pella deel ons ons laaste sakkies, lekkers en Bybeltjies uit. Vandaar na Pofadder. Ons doen aan by die Pienk padstal by Kakemas. Keimoes is ‘n mooi dorp, met die wingerde sommer so langs die hoofpad. Vanaand slaap ons by Kameelboom lodge naby Vryburg. Dan… Huis toe.

Sondag 5 Oktober 2008 – Die groot depressie pak ons…. Ons wonder hoekom. Dit was ‘n heerlike vakansie, herinneringe wat kosbaarder is as goud.


Vir i paar Fotos (te veel om hier te plaas )

http://s236.photobucket.com/albums/ff10 ... s_Namakwa/

Hier is n Mapsource track vir die wat belang stel

viewtopic.php?f=65&t=4264
123 WEG MP
2011 Hilux Vigo 3.0 D4D D/C
VENI VICI VIDI
CAME, I SAW, I CONQUERED
Post Reply

Return to “Trip Reports”