Things are only going to get worse.
http://jv.news24.com/Rapport/Suid-Afrik ... 82,00.html
Vissers se laaste lewenslyn geknip toe hofbevel eindig
Llewellyn Prince
Kaapstad
Nóg ’n harde slag het Suid-Afrika se reeds vuisvoos bestaans- en kleinskaalvissers getref toe hul laaste lewenslyn summier afgeknip is.
Die tussentydse gelykheidshofbevel wat dié vissersgemeenskappe die reg gegee het om 20 krewe per week en 30 lynvisse per dag te vang, het Dinsdag geëindig.
Vissers is so desperaat dat hulle hul glo selfs tot veediefstal wend om te oorleef.
“Nou is hulle totaal aan hul eie lot oorgelaat vir oorlewing met geen reg op die see nie,” sê mnr. Naseegh Jaffer, direkteur van die Masifun-dise-ontwikkelingstrust. Dié nie-regeringsorganisasie beywer hom vir die regte van Suid-Afrika se bestaans- en kleinskaalvissers.
“Ons onderhandel met die direktoraat van mariene en kusbestuur (MKB) om die tydperk vir lynvis te verleng en oorweeg dit ook sterk om weer hof toe te gaan vir nog ’n bevel.”
Rapport het Elandsbaai aan die Weskus die afgelope week besoek om uit vind hoe dié mense nou gaan oorleef.
Sowat 20 vissers drom ledig by ’n huis saam. Kinders speel in die stofstrate.
Elke tweede huis lyk erg vervalle en vissers sit droëbek in die son langs omgekeerde roeibote.
Mnr. Neville Newman sê reguit namens die groep van 20: “Die regering het ons in misdadigers verander.
“Ons vang vis om ons gesinne te onderhou. Nou moet ons dit steel. As beamptes van mariene- en kusbestuur jou vang, word jy met R5 000 beboet of kry jy tronkstraf.
“Sowat 50% van ons het nou misdaadrekords.
“Ons gaan tronk toe vir stropery of vir veediefstal omdat ons boere se vee moet steel om te oorleef.
“Maar ons sal aanhou stroop en vat wat ons toekom. Dit is waarom Elandsbaai nou bo aan die lys is vir kreefstropery,” sê Newman.
Volgens hom vang nog net 6 van die oorspronklike sowat 104 bestaansvissers in dié dorp vis vir die plaaslike fabriek.
Me. Tina Joemat-Pettersson, nuwe minister van landbou, bosbou en visserye, het onlangs gesê dat daar gekyk word na ander werkgeleenthede vir vissersgemeenskappe.
Landbou, toerisme, konstruksiewerk, voedselprosessering en verbruikersgoedere is genoem.
Joemat-Pettersson het ook die moontlikheid genoem dat die toekenning van viskwotas hersien kan word.
Newman sê toe die kwotastelsel in 1994 begin is, is die bestaansvissers oor die hoof gesien.
“Kwotas is eerder toegeken aan kommersiële maatskappye, plaaslike sakemanne, prokureurs, onderwysers of mense van Transvaal wat die see nie eens ken nie.”
“Ons weet tot vandag nie waarom ons kwota-aansoeke afgekeur is nie.
“Hoekom word ons nie geken in die opstel van die visbeleid nie? Net die groot maatskappye word erken, maar dit is hulle wat die visbronne uitroei.”
Mnr. Paul Boois, nog ’n visser, sê: “As die regering regtig omgee, moet hulle die see weer oopstel vir bestaansvissers.
“Nie een van ons het ’n ordentlike huis nie. Ons kinders slaap op die grond. Ons moet van die hand na die tand leef.”
Oor die alternatiewe werkgeleenthede sê Newman: “Dié manne is te oud om iets nuuts te leer. ’n Visserman sal ’n visserman sterwe. Dit is in ons bloed.”
Volgens Newman het die MKB al verskeie taakspanne na hulle gestuur om hul klagtes aan te hoor, “maar ons wag tot vandag toe nog op terugvoer”.
"The World is a book, and those who do not travel read only a page.-Saint Augustine"